Monday 16 July 2012

Gebed - Waarom word al ons gebede nie verhoor nie


REEKS OOR GEBED  -  DEEL 2 (Waarom word al ons gebede nie verhoor nie)

2 Kor. 1:20  “Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle ja en in Hom amen, tot heerlikheid van God deur ons”.

DIT GOD WIL GEBED TE BEANTWOORD 
Die gelowige moet glo dat God elke gebed wil verhoor wat in geloof, in die Naam van Jesus en volgens die beloftes soos gevind in die Bybel gebid word. As ons dit enigsins betwyfel sal ons nooit die geloof hê om enige iets te ontvang nie. Dan vra ons verniet. Ons kan nou en hier verklaar dat dit die hoogste wil van God is dat elke gebed wat reg gebid word verhoor sal word. Hoe weet ons dat dit?
Ons weet dit uit die eenvoudige geskrewe Woord van God en die volgende tekste bewys hierdie feit baie duidelik:

“Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word. Of watter mens is daar onder julle wat, as sy seun hom brood vra, aan hom ‘n klip sal gee; en as hy ‘n vis vra, aan hom ‘n slang sal gee? As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid!” (Matt. 7:7-11).

“En Jesus antwoord hulle: Deur julle ongeloof; want, voorwaar Ek sê vir julle, as julle geloof het soos ‘n mosterdsaad sal julle vir hierdie berg sê: Gaan weg hiervandaan daarnatoe! en hy sal weggaan, en niks sal vir julle onmoontlik wees nie” (Matt. 17:20).

“Jesus antwoord en sê vir hulle: Julle moet geloof in God hê. Want, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir hierdie berg sê: Hef jou op en werp jou in die see—en nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, sal gebeur—hy sal verkry net wat hy sê. Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit sal ontvang, en julle sal dit verkry” (Mark. 11:22-24).

“Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo—die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na my Vader gaan. En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word. As julle iets in my Naam vra, sal Ek dit doen” (Joh. 14:12-14).

“As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry” Joh. 15:7).

“Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies en julle aangestel om vrug te gaan dra en dat julle vrug kan bly, sodat wat julle die Vader ook al in my Naam vra, Hy julle dit kan gee” (Joh. 15:16).

“En in daardie dag sal julle My niks vra nie. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, alles wat julle die Vader sal vra in my Naam, sal Hy julle gee. Tot nou toe het julle niks in my Naam gevra nie. Bid en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees” (Joh. 16:23-24).

“want as ons hart ons veroordeel, God is meer as ons hart, en Hy weet alles.  Geliefdes, as ons hart ons nie veroordeel nie, dan het ons vrymoedigheid teenoor God; en wat ons ook al bid, ontvang ons van Hom, omdat ons sy gebooie bewaar en doen wat welgevallig is voor Hom” (1 Joh. 3:20-22).

“En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens sy wil. En as ons weet dat Hy ons verhoor, dan weet ons dat, wat ons ook al vra, ons die bedes verkry wat ons van Hom gevra het” (1 Joh. 5:14-15).

Al hierdie tekste bewys dat ons moet vra en ons sal ontvang. Die vraag is: As al hierdie tekste dan waar is en God so baie beloftes aan ons gegee het waarom is dit dan so dat ons gebede nie beantwoord word nie? Waarom bid ons dan nog? Dit is so dat baie se gebede nie verhoor word nie omrede sekere vereistes nie nagekom word nie.

DIE VIER ALGEMENE REDES WAAROM GEBEDE NIE BEANTWOORD WORD NIE IS:
1.    SONDE  -  JAK. 4:1-7
Die volgende sondes wat in Jak. 4:1-7 voorkom is: Wellus; Moord; Naywer; Begeertes; Veg en Oorlog met mekaar; Bid om dit in wellus deur te bring; Egbreek; Vriendskap met die wêreld; Hoogmoed; Rebellie teen God; Terug gevalligheid; Dubbelhartigheid; Misbruik van die tong.

Hierdie en nog baie ander sondes veroorsaak dat gebede nie beantwoord word nie. Wanneer iemand aan hierdie sondes skuldig is is hy ‘n wellusteling, moordenaar, nayweraar, hoogmoedige, sondaar, ens. Dan sal dit mos geen wonder wees dat God hul gebede nie verhoor nie? Sou jy?

Die Woord leer dat duidelik dat God gebede van sondaars nie verhoor nie:
“Kyk, die hand van die HERE is nie te kort om te help nie, en sy oor is nie te swaar om te hoor nie; maar julle ongeregtighede het ‘n skeidsmuur geword tussen julle en julle God, en julle sondes het sy aangesig vir julle verberg, sodat Hy nie hoor nie” (Jes. 59:1-2).

“Net so moet julle, manne, verstandig met hulle saamlewe en aan die vroulike geslag, as die swakkere, eer bewys, omdat julle ook mede-erfgename van die genade van die lewe is—sodat julle gebede nie verhinder mag word nie” (1 Pet. 3:7).

"En ons weet dat God nie sondaars verhoor nie; maar as iemand Godvresend is en sy wil doen, die verhoor Hy" (Joh. 9:31).

“Want die oë van die Here is op die regverdiges en sy ore tot hulle gebed, maar die aangesig van die Here is teen die kwaaddoeners” (1 Pet. 3:12).

Volgens bogenoemde en onderstaande tekste kan ons baie duidelik sien dat God nie sondaars verhoor tensy dit ’n opregte oproep tot bekering is nie. Geen kind kan sommer na ‘n ander se pa gaan en van hom sekere voorregte vra en ontvang nie. Hy sal eers kind moet word voordat hy die hemelse Vader om voorregte en beloftes kan nader.

“Die offer van die Goddelose is vir die HERE ‘n gruwel, maar die gebed van die opregtes is Hom welgevallig” (Spr. 15:8).

“Die HERE is ver van die Goddelose, maar die gebed van die regverdiges hoor Hy” (Spr. 15:29).

“Wie sy oor wegdraai om nie na die wet te luister nie, selfs sy gebed is ‘n gruwel” (Spr.28:9).

Die enigste wetlike reg vir gebed en die beantwoording daarvan is om weergebore te wees en in ’n lewende verhouding met God te staan. Net ware geredde gelowiges het die wettige reg om  iets van God te vra en te ontvang. Sondaars wat teen God rebelleer en weier om hulle lewens aan Hom oor te gee het geen wettige reg om God te nader nie want hulle het geen vaste fondament vir hulle geloof nie. In Sy genade het God baie keer sondaars se hulpgeroep verhoor en hulle verlos en gehelp in tye van nood, maar Hy is nie genoodsaak om vir hulle te doen wat Hy in Sy Woord aan Sy kinders belowe het nie, nie voordat hulle Hom gehoorsaam en sodoende gered word nie. Dit is omdat Hy genadig is en Sy liefde aan die sondaar bewys dat Hy hulle ook somtyds verhoor. Paulus sê:

Of verag jy die rykdom van sy goedertierenheid en verdraagsaamheid en lankmoedigheid, omdat jy nie besef dat die goedertierenheid van God jou tot bekering wil lei nie?” (Rom. 2:4).

“maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was” Rom. 5:8).

Die eerste belofte wat die sondaar wettiglik kan opeis is die van vergifnis en reiniging van sondes (Hand. 2:38; 3:19; 1 Joh. 1:9). Eers dan is hy op die plek waar hy ook iets van God kan vra. Die regte verhouding met God is dus die enigste wettige grond vir vra en ontvang (Matt. 7:7-11; Luk. 11:1-13; Joh. 14:12-15; 15:7, 16; 16:23-26; 1 Joh. 3:20-24; 5:13-15).

Wanneer die gelowige in die regte verhouding met God staan is dit die gelowige se wettige familiereg, verlossingsreg, evangeliereg en skeppingsreg om enige van God se beloftes te vra en te ontvang. Volgens hierdie regstelsel behoort daar geen vraag of onduidelikheid te wees oor die wetlike reg oor die uitkoms van gebed nie want alle dinge behoort aan God en Sy kinders, en Sy kinders sal aan die einde ook alles beërwe wanneer alle rebellie finaal beëindig en vernietig is (Rom.8:17-18; 1 Pet. 1:2-5; Op. 21:7). As alles dan aan die gelowiges behoort, en as die gelowiges dit alles tog aan die einde sal beërwe, hoekom dan nie nou en hier van dit ontvang wat God aan ons belowe en beskikbaar gestel het nie?  

2.    VERKEERDE MOTIEWE DAT ONS GEBEDE BEANTWOORD WORD
"Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring" (Jak. 4:3).

            Gebede wat met die verkeerde gesindheid en motiewe gebid word sal nooit verhoor word nie. Jy kan nie bid uit jaloesie en afguns en verwag dat die Here dit sal seën nie. Om te bid vir iets net omdat jy iets beters en groters as iemand anders wil hê sal dus tydmors wees. Gebedsverhoring gaan om God te verheerlik en nie om jouself teenoor ander te verheerlik nie.

3.    ONGELOOF VERHINDER GEBEDE
"Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring" (Jak. 4:3).

“Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word.  Want dié mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie—  so ‘n dubbelhartige man, onbestendig in al sy weë” (Jak. 1:6-8).

a.)    Jy moet absolute geloof in God hê (Rom. 4:17; Heb. 11:3; Gal. 5:22-23).
b.)     Jy moet presies weet waarvoor jy bid (Mark. 11:23-24; Matt. 17:20; 21:21-22; Joh. 15:7).
c.)      Jy moet onbeperkte geloof hê oor wat jy wil hê sonder om God se vermoeë of wil enigsins te bevraagteken (Mark. 11:23-24; Matt. 17:20; 21:21-22; Mark. 9:23; Joh. 15:7,16).
d.)     Jy moet totaal weier om in jou hart te twyfel (Mark. 11:23; Matt. 17:20; Jak. 1:5-8).
e.)      Glo dat wat jy ookal mag vra jy sal ontvang (Mark. 11:23-24; Matt. 7:7-11; 17:20; 21:21-22; Heb. 11:6).
f.)       Glo dat wat jy ookal vra reeds goedgekeur is (Mark. 11:24; Matt. 17:20; 1 Joh. 5:14-15).
g.)      Neem die outoriteit en beveel dit wat jy wil hê tot ‘n werklikheid (Mark. 11:23-24; Matt. 17:20; Mark. 9:23).
h.)     Glo dat wat jy ookal vra God se wil is (Mark. 11:24; Joh. 15:7; Matt. 17:20; 21:21-22; Heb. 11:6; Jak. 1:5-8).
i.)        Moet nooit sê: “As dit U wil is” as dit kom by enige iets wat God definitief in Sy Woord belowe het nie (Mark. 11:23; Ps. 84:11; 2 Kor. 1:20; 2 Pet. 1:3-4).
j.)      Jy moet ‘n skoon hart voor God en jou medemens hê (Mark. 11:25; Joh. 15:7; 1; 3:22-23).

Die Woord leer dat die bidder "in volle geloofsversekerdheid" moet bid (Heb. 10:22). Ongeloof sê: “God kan nie”, terwyl geloof sê: “God kan en God sal” en daarom spreek geloof van 'n totale roepe en afhanklikheid van die almagtige God.

Satan beroof ons van ons geluk, voorspoed, finansies en gesondheid en vir so baie gelowiges is dit normaal om hulle noodlot maar net terdeë te aanvaar as die wil van die Here. Kind van God, die antwoord is NEE, want nederlaag en mislukking is ongeloof en daarom kan dit nooit ’n opsie wees by ‘n WARE standvastige doelgerigte gelowige nie. NEE EN NEDERLAAG MAG NOOIT AANVAAR WORD AS DIE WIL VAN GOD NIE. Mense sal mekaar hof toe sleep en aan die keel gryp om mekaar by hulle beloftes te hou, maar as dit by God kom begin hul God se Woord en beloftes in twyfel trek. Mense sal baie makliker mense by hul woord hou as vir God, want as mense iets belowe glo en aanvaar hulle dit terdeë, maar as God iets sê betwyfel hulle dit altyd.

Wanneer jy doen wat God in Sy Woord vra en jy bid volgens Sy wil, dat God net die beste vir Sy kinders wil hê, dan mag jy NOOIT ’n nee as ‘n antwoord aanvaar nie al daal daar ’n engel uit die hemel neer om dit aan jou mee te deel (Gal. 1:8). God is ’n waarmaker van Sy Woord en beloftes. Sy Woord is ja en amen (2 Kor. 1:20), Hy is wakker oor Sy Woord om dit te volbring (Jer. 1:12) en die hemel en die aarde sal makliker verby gaan as wat enige iets wat Hy in Sy Woord belowe het onvervuld verby sal gaan (Matt. 24:35; Mark. 13:31; Luk. 21:33). Vat God op Sy Woord, hou Hom op Sy beloftes, Hy sal dit doen want Hy is nie ’n mens wat sal lieg nie (Tit. 1:2; Heb. 6:18). Jy moet net onwrikbaar en aggressief glo en dit sal so wees in Jesus Naam.

4.    VOLHARDING
Die ware bidder sal nie ophou nie voordat hy deurbraak of antwoord gekry het nie, al moet hy dae, weke of selfs maande aanhou bid (Luk. 18:1-8). Kyk wat het met Daniël gebeur. Hy het drie weke (21 dae) lank gebid en God se aangesig gesoek (Dan. 10:2-3). Na 21 dae het ‘n engel na hom gekom en hom meegedeel dat die Prins van die Perse hom 21 dae lank teenoor hom gestaan en hom sodoende verhinder het om die antwoord van die Here aan hom te bring. Waarom eers na 21 dae:

“Toe sê hy vir my: Wees nie bevrees nie, Daniël; want van die eerste dag af dat jy jou hart daarop gerig het om ag te gee en jou voor die aangesig van jou God te verootmoedig, is jou woorde gehoor, en om jou woorde ontwil het ek gekom; maar die vors van die koninkryk van die Perse het een en twintig dae lank teenoor my gestaan, en kyk, Mígael, een van die vernaamste vorste, het gekom om my te help; en ék het daar oorgebly by die konings van Persië. Ek het dan gekom om jou inligting te gee oor wat jou volk aan die einde van die dae te beurt sal val, want die gesig sien nog op die verre toekoms” (Dan. 10:12-14).

Net soos in die geval van Daniël staan Satan ook teenoor die beantwoording van ons gebede. Wat sou gebeur het as Daniël na ‘n week of twee opgehou bid het? Daarom moet ons ook  volhard in dit wat ons van God vra:

”..terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges" (Ef. 6:18).

Satan kan hoor as ons planne maak en beraam. Hy hoor ook wat ons bid en daarom probeer hy  om ons planne in die wiele te ry sodat ons God die skuld moet gee. Daarom is daar ook groot Godsmanne wat sê dat as jy sensitiewe planne het moet jy nie hardop bid nie – bid liewer in die Gees sodat hy jou planne nie kan hoor nie (Ef. 6:18; 1 Kor. 14:13-14)..

Geestelike uithouvermoë word gekweek deur volhardende gebede. Die stamina vir die geveg wat ons met "volharding moet loop" (Heb. 12:2) word alleen deur volharding verkry. Al die beloftes in die Skrif en die voorbeelde uit die Ou Testamentiese geskiedenis spreek van volharding totdat oorwinning deurbreek:

"En telkens as Moses sy hand ophou, was Israel die sterkste; maar as hy sy hand laat sak, was Amalek die sterkste. Maar die hande van Moses het swaar geword; daarom het hulle 'n klip geneem en dit onder hom neergelê, dat hy daarop kon sit. En Aäron en Hur het sy hande ondersteun, die een duskant en die ander anderkant. So het sy hande dan vas gebly tot sononder. En Josua het Amalek en sy volk met die skerpte van die swaard 'n neerlaag toegebring" (Ex. 17:11-13).

Hier word 'n duidelike voorbeeld gevind van iemand wat gebid het totdat die oorlog verby is. Moses was in 'n geweldige stryd gewikkel want hy het selfs moeg geword om sy hande omhoog te hou; maar volhardende gebed het 'n hele weermag verslaan. Baie gelowiges het egter die stryd gewonne gegee omdat hulle nooit die geheim van volharding in gebed aangeleer het nie. Hoe swaarder die stryd, hoe groter die oorwinning. God is altyd getrou om volhardende gebed te verhoor.

“En Ek sê vir julle: Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word” (Luk. 11:9-10).

Elke oorwinning oor versoeking, elke siel wat gered word, elke geestelike trap wat geklim word kan alleen suksesvol deur volhardende gebed bereik word:

“En Hy het ook aan hulle ‘n gelykenis vertel met die oog daarop dat ‘n mens gedurig moet bid en nie moedeloos word nie, en gesê: Daar was ‘n regter in ‘n stad wat God nie gevrees en geen mens ontsien het nie. En daar was in daardie stad ‘n weduwee, en sy het gedurig na hom gekom en gesê: Doen reg aan my teenoor my teëparty. En ‘n tyd lank wou hy nie; maar daarna het hy by homself gesê: Al vrees ek God ook nie en al ontsien ek geen mens nie, tog sal ek, omdat hierdie weduwee my moeite gee, aan haar reg doen, sodat sy nie eindelik kom en my in die gesig slaan nie. Toe sê die Here: Hoor wat die onregverdige regter sê. Sal God dan nie reg doen aan sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom roep nie, al is Hy ook lankmoedig in hulle geval? Ek sê vir julle dat Hy gou aan hulle reg sal doen; maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?” (Luk. 18:1-8).



SLOT
Kind van God, daar kan geen mislukking in gebed wees van God se kant af nie want indien so sal God nie wees wie Sy Woord sê Hy is nie en dan sal die Bybel ook die grootste klug ooit wees. Die gelowige hoef dus nooit te twyfel oor wat God in Sy Woord gesê het nie. Dit gaan ons verstand te bowe hoeveel kinders van die Here so maklik tevrede kan wees om met so baie goeie dinge in hierdie lewe te mis terwyl hulle in oorvloed kan hê. Mense sê so maklik: "Ek kan nie, ek sal nie, ek glo nie dat ek sal kry nie , ek glo nie dat God my gebede verhoor nie, ek weet nie of dit die wil van God is nie". Dit is mos makliker om te sê: “Ek kan, Ek sal, Ek glo, dat ek dit sal verkry, Ek weet dat God my gebede verhoor, Ek weet dit is die wil van God, Dit sal so wees in Jesus Naam”.

Daar is drie wette van geloof wat die gelowige moet toepas vir gebedsverhoring:

“…Wat dit betref—as jy kan glo, alle dinge is moontlik vir die een wat glo” (Mark. 9:23).

"...Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit sal ontvang, en julle sal dit verkry" (Mark. 11:24).

“…Laat dit vir julle wees volgens julle geloof” Matt. 9:29).

Wanneer hierdie drie wette onbeweeglik en aggressief toegepas word is dit onmoontlik dat gebed kan misluk. Seker een van die mooiste verhale rondom gebed, geloof en volharding vind ons in Lukas 18:1-8. Hierdie weduwee het gedurig en aanhoudend gebid. Sy het hierdie drie wette toegepas en alles het vir haar ten goede meegewerk. Sy het die regter gedurig en onophoudelik gepla en geïrriteer en Sy het die vrug daarvan gepluk en ontvang:

“En Hy het ook aan hulle ‘n gelykenis vertel met die oog daarop dat ‘n mens gedurig moet bid en nie moedeloos word nie, en gesê: Daar was ‘n regter in ‘n stad wat God nie gevrees en geen mens ontsien het nie. En daar was in daardie stad ‘n weduwee, en sy het gedurig na hom gekom en gesê: Doen reg aan my teenoor my teëparty. En ‘n tyd lank wou hy nie; maar daarna het hy by homself gesê: Al vrees ek God ook nie en al ontsien ek geen mens nie, tog sal ek, omdat hierdie weduwee my moeite gee, aan haar reg doen, sodat sy nie eindelik kom en my in die gesig slaan nie. Toe sê die Here: Hoor wat die onregverdige regter sê. Sal God dan nie reg doen aan sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom roep nie, al is Hy ook lankmoedig in hulle geval? Ek sê vir julle dat Hy gou aan hulle reg sal doen; maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?

So moet die gelowige God ook gedurig en onophoudelik dag en nag tot Hom roep, Hom “pla” en “irriteer” want dit spreek van ‘n doelgerigte onwrikbare geloof in God wat die mag het om alles te verander. So ’n doelgerigte gebedslewe getuig van die gelowige se afhanklikheid van God waardeur die gelowige sy onmag om homself te help erken en sy absolute vertroue in God te plaas om te help. Aan die einde van hierdie gedeelte (vers 8) vra Jesus: ”maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?” Die klem word gelê op  “die” geloof. Wat is “die” geloof? Die “die”geloof is soos boonste skrifgedeelte uiteengesit, die geloof van hierdie vrou wat NIE NEE VIR ‘N ANTWOORD WOU AANVAAR NIE. Dit is ware geloof.

Alle ongelowige praatjies en alle ongeloof en twyfel oor of God gebed beantwoord of nie is van die duiwel en almal wat sulke gedagtes koester is direk in samewerking met die duiwel. Dan is hy ook besig om God 'n leuenaar te maak en verhinder hy God vir die beantwoording van sy eie gebede. God sal nooit op enige manier sy eie wet van die geloof verbreek of die teenoorgestelde daarvan doen nie. As jy glo dat God jou gebede sal beantwoord, sal Hy. As jy glo dat hy dit nie doen nie, dan sal Hy dit nie doen nie.

HIERDIE IS DIE WAARHEID EN NIKS ANDERS AS DIE VOLLE WAARHEID NIE (Heb. 11:06; Jak. 1:5-9).

Gesien in die lig van bostaande moet elke ware gelowige:
  1. Nooit God se Woord en beloftes in twyfel trek nie (Jak. 1:6-8).
  2. Met ’n volle geloofsversekering vir ’n absolute gebedsverhoring moet jy glo en net ‘n JA en AMEN as finale uitweg aanvaar (Luk. 11:9-10; Matt. 7:7-11; 17:20; 21:21; Mark. 9:23; 11:22-24; Joh. 14:12-15; 15:7,16; 16:23-26; Heb. 11:6; Jak. 1:5-8; 1 Joh. 3:19-22; 5:14-15).
  3. Glo in ‘n egte Vader-kind verhouding met die gedagte dat God meer geïnteresseer is in jou daaglikse behoeftes en welvaart as wat jou aardse ouers was of is, dat Hy net die heel beste vir jou in gedagte het en dat Hy ook presies dit wil gee en nog beter as waarvoor jy gevra het (Luk. 11:11-13; Matt. 7:7-11; 1 Joh. 3:19-22; 5:14-15; Ps. 84:11).
  4. Glo bo alle twyfel dat dit die wil van God vir jou is om te kry wat jy graag wil hê (Luk. 11:9-13; Ps. 23:1; 34:9-10; 84:11; Matt. 17:20; 21:21; Mark. 11:22-24; Joh. 15:7).
  5. Glo, vertrou en vra God vir Sy Heilige Gees, Sy alles ingeslote geskenk aan jou om jou te help om te bid en antwoorde te verkry (Luk. 11:13; Rom. 8:26-27; Ef. 2:18; 6:18; Judas 1:20; Joh. 7:37-39).
  6. Moet nooit bevraagteken of God jou gebede sal verhoor wat jy in volle geloofversekering bid om op Hom te vertrou en staat te maak vir hulp, krag en bystand nie. God het nie net sekere spesiale kinders wie se gebede Hy verhoor nie. Hy verhoor al Sy kinders se gebede (Luk. 11:9-13; Matt. 7:7-11; Mark. 9:23; 11:24; Joh. 14:12-15; Rom. 2:11).
  7. Moet nooit nederlaag aanvaar nie.

No comments:

Post a Comment