Friday 12 October 2012

GEN 2 DIE SKEPPING VAN DIE MENS - (Die verhaal van Ish en Ishah)

GEN 2  DIE SKEPPING VAN DIE MENS  -  (Die verhaal van Ish en Ishah)

Die engele kon net in ekstase en met ingetrekte asems toekyk terwyl hulle die heerlikheid en die majesteit van God Almagtig bewonder. Sy gedaante het geskitter soos ‘n flitsende diamant, Sy aangesig het geskyn soos die son in Sy krag. Sy oë was weerlig. Daar het Hy gestaan, agteroor gebuig in die volheid van Sy krag terwyl Hy trots en glimlaggend Sy nuut geskepte skepping bewonder, die blouste blou lug met die pragtige wit wolke, die hoë berge, die stromende riviere, die uitgestrekte velde, bome en plantegroei, die diepste blou see, die prag van die diereryk, en God het trots gelag want die Woord sê vir ons: En God het na Sy skepping gekyk, en God het gesien dat dit goed is. Lank en aandagtig het God se oë die ganse aarde deurwandel...maar iets het ontbreek. Oor die verste horisonne het God gesoek, oor die hoogste berge, in die diepste kuile van die see, oor die breedte van die wêreldrond het Sy oë gebrand maar Hy kon niks vind nie. Aandagtig het God Sy aangesig laat sak totdat Sy oë vasgenael was op die grond tussen sy voete. Lank en aandagtig het Hy na die stof gestaan en kyk, en skielik het Hy hard gelag. Sy gelag het die univers vervul en onmiddellik het die engele  geweet God Almagtig beplan iets….iets baie, baie anders as Sy nuut geskepte skepping. Baie angstig en haastig het die hemelse leërskare soos in ‘n oneindige hoë arena rondom God vergader want hulle het geweet hier kom iets groot, iets onbeskryflik...en dit mag hulle nie mis nie.    

En God het glimlaggend op Sy knieë gehurk. Stadig en versigtig het Hy die stof van die aarde met Sy hande bymekaar geskraap en baie diep en innig daarna gekyk. En God het iets moois gesien, Hy het iets kosbaars gesien. En God het die handvol stof glimlaggend teen Sy hart gedruk en sag, liefdevol en vol deernis daarna gekyk. En God het die hand vol stof nader aan Sy mond gebring, daarin gespoeg en toe het Sy hande begin beweeg. En as meester kunstenaar en meester beeldhouer het God die modder begin vorm. In ekstase het die engele elke hand beweging met bewondering dopgehou. En as meester Pottebakker en Kunstenaar het God die klei gevorm. En God het 'n stof-pop gemaak – God het 'n modder-pop gemaak en toe die beeldhouwerk voltooi was kon die engele net in stille verbasing toekyk na die snaakse beeldhouwerk van klei wat voor hulle in die stof lê. En God het afgebuk en die asem van die lewe in hierdie stof-pop se neus ingeblaas en Sy heerlikheid het die modder-pop gevul. Stelselmatig van kop tot tone het die klei verander na vlees, en die mooiste kunswerk, die grootste meesterstuk het voor die engele regop gaan sit, en God het hom aangeraak en die mens het regop gestaan. Die engele het na hul asems gesnak en kon net in stille verwondering staar na die prag meesterstuk wat pas voor hul oë geskape is. In ekstase het hulle sag onder mekaar begin uitgeroep: “Maar dit lyk dan net soos Hy, dit lyk dan net soos die Allerhoogste, Hy het ‘n beeld van Homself gemaak”. Trots en laggend het God Sy hand liefdevol oor die mens se hoof gevryf. 

Hierdie stof-pop, hierdie modder-pop was so kosbaar in die oë van God, dat hy word die toonbeeld van God se beeld en Sy gelykenis. Hy word die kroon van die skepping van God. En God het die man Ish (Hebreeus, Ish) genoem en hom in die Tuin van Eden geplaas en hom aangestel om te heers oor al die visse van die see, die voëls van die hemel en die diere van die veld. En God het Ish opdrag gegee om name te gee aan al die diere in die Tuin. Twee twee, mannetjie en wyfie het die diere na Ish gekom om hul naam te kry, soos God hom beveel het. En Ish het opgemerk dat elke hy 'n sy het en dat hulle baie gelukkig en liefdevol was. En Ish het begin wonder of daar iewers tussen al die diere nie vir hom ook 'n sy is nie. Uiteindelik was hy klaar en steeds was daar vir hom nie ‘n sy nie. Hy het begin wonder, begin rond kyk, hy het die tuin begin deurkruis opsoek na sy wyfie, oor die berge en die dale het hy gehardloop en geroep, deur die riviere en die velde, oral het hy gesoek, maar Ish kon geen wyfie vir homself vind nie. Miskien is sy daar iewers, miskien moet ek net harder roep het hy vir homself gesê en hy het geroep en geroep totdat daar geen krag meer in hom was nie en uiteindelik hartverskeurend op sy knieë geval en begin huil - ISH HET NIE N WYFIE gehad nie. Die diere, hoe mooi ookal het nie by die mens gepas nie, hulle kon nie in sy behoeftes voldoen nie. Hulle kon hom nie van hulp wees en hom versorg nie. Hulle kon hom nie bemoedig en vertroos nie. Hulle kon nie hom verstaan en met hom kommunikeer nie. Ish het geen maat gehad nie. Die kroon van die skepping van God was alleen, bitter eensaam en verskriklik hartseer. Uiteindelik het Ish tot God geroep: Here God, het ek dan nie ook 'n wyfie nie - is daar iewers in hierdie wonderlike skepping van U nie dalk vir my ook 'n sy nie? En hartseer en gebroke het Ish op die grond geval en snikkend aan die slaap geraak. Hierdie rou hartverskeurende krete het deur die hemel weergalm. Die univers is tot stilstand geruk vanweë Ish se hartverskeurende hulp roepe. Engele is tot stilstand geruk met hande voor hul monde terwyl hulle die onbekende hartseer van Ish hoor en die nog vreemder trane sien. Eenkant met 'n diepe hartseer en met trane in die oë het God Ish se hulp roep gehoor. Nooit het Hy beplan dat daar hartseer in die Tuin van Eden moes wees nie. Nooit het Hy beplan dat daar trane in Eden sou vloei nie. Engele het hul aangesigte in hul hande geberg terwyl 'n diepe hartseer hulle oorweldig het.

Hemel het gerou - En God het geweet - Sy skeppingswerk is nog nie voltooi nie. Met ‘n smeek in hul oë het die engele na God Almagtig gekyk. Skielik het die hartseer uitdrukking op God se gesig verander. Weerligstrale het uit God ontstaan wat die hele univers verlig. Miljoene strale soos skitterende diamante en edelgesteentes het soos ’n vulkaan uit Hom gestraal en soos ‘n tornado Hom om sirkel. Reenboë van verskillende kleurskakerings het Hom omstraal. In aanbidding en lofprysing het die engele voor Hom op hulle knieë geval en Hom in Sy heerlikheid aanbid. Ook het hulle reeds geweet God Almagtig het ’n plan. Uiteindelik het God die stilte verbreek en gesê: "Dit is nie goed dat die mens alleen is nie, Ek sal vir hom 'n hulp maak wat by hom pas" Die engele was in ekstase - Hulle het gejubel en gejuig voor die aangesig van God. Maar, het die engele onder mekaar gefluister: Is dit moontlik, kan God werklik iets so wonderlik te voorskyn bring wat by Ish, die kroon van Sy skepping sal pas. En God weer gespreek: “Ek sal vir die Ish ‘n mannin, ‘n Ishah maak. Ishah moet die eensaamheid in Ish se lewe wegneem - sy moet al die leemtes vul - sy moet hom gelukkig maak. Sy moet nie alles vir Ish doen nie - nee, Ish is nie 'n invalide nie - Ishah moet net vir Ish 'n hulp wees. Ishah moet ook nie met hom baklei, kompeteer of argumenteer nie - daarom sal Ek haar die swakkere maak maar met ‘n verskil….met ‘n baie groot verskil. Ishah moet Ish tot stilstand kan dwing, sy moet Ish se hart in sy laat keel bons. Ishah moet Ish se hart sag en week kan maak. Ishah sal voorwaar voortreflik moet wees, iets waartoe die Ish verskriklik aangetrokke sal voel, om haar te begeer, te wil besit, om haar teen hom vas te druk, te beskerm, haar lief hê en te bemin. Dit sal die grootste romanse wees dat die engele ooit sal aanskou, altans, in hierdie wêreld”. . In die agtergrond het die engele hoorbaar met mekaar geredeneer: Dit klink so pragtig, so, so, maar...watse romanse, waarvan praat die Allerhoogste nou eintlik.

 Maar het God gewonder, waarvan sal Ek Ishah maak om so voortreflik te wees? God kon haar nie uit die stof van die aarde maak nie anders sou sy net soos die man wees. Dan sou sy ook nie kon voldoen aan die hoë vereistes wat God vir haar gestel het nie. God wou ook nie ‘n “Adam and Steve” maak nie, God wou ‘n “Adam and Eve” maak. Daarom sou stof nie werk nie. God kon haar van baie goed gemaak, van Yster, van klip, van hout. Maar sy sou koud, hard en kil gewees het. 'n Hart van yster en klip sou nooit kon verstaan nie - sou nie meegevoel, empatie, simpatie kon hê nie. 'n Hart van yster en klip sou nooit 'n moederlike hart van ontferming en vertroosting kon hê nie. 'n Hart van yster en klip sou ook nie 'n traan druppel kon voortbring nie. God kon Ishah van edelstene gemaak het Sy kon geskitter en geblink het. Sy kon 'n vel van diamant - Hare van goud - Oë van sardius - pêrel tande - smarag lippe gehad het - Sy kon soos 'n god lyk. Maar God het geweet Hy kan nie, Hy mag nie. En God hartseer teruggedink toe wel iemand so gemaak het - Lucifer. En God het onthou – Ons lees in Eseg. 28 hoe hierdie prag en skoonheid Lucifer se einde, sy val beteken het, en God het geweet dit sou ook haar einde beteken. Dit sou ook nie werk nie. God het iets baie sag nodig gehad om die sagte emosies, meegevoel, en trane van die vrou te skep. Iets sag en kosbaar sodat sy die harde en soms ongenaakbare hart van die man week kan maak. Iets sag sodat sy die man se hele menswees en gedagtes kan oorheers. God sal iets moes gebruik wat vir die man baie kosbaar is sodat dit in sy natuur sal wees om haar te wil besit, te vertroetel, te beskerm, en lief te hê. Iets waarvoor hy baie omgee, wat hy koester, waarvoor hy baie lief is - En God het geweet daar is net een iets wat in al hierdie vereistes voldoen - Dit sal iets moet iets moes wees, iets soos sy eie liggaam. Nie uit sy hoof nie, anders sal sy oor hom heers, en dit mag nie. Ook nie uit sy voete nie, anders sal Ish moontlik op haar trap en dit sal God nie toelaat nie. Maar uit die sy, onder sy arm, naby die hitte van sy hart, iets wat hy koester en beskerm. Daarom maak God die vrou uit die rib. Die koms van Ishah sal die einde van die skepping wees, sy sal dit volmaak maak.

 Engele het met hande voor hul monde na die stil slapende figuur van Ish gestaar. Baie stil het God langs Ish gaan kniel en Sy hand sag en teer oor Ish se hoof gevryf. En toe het Sy hand na Ish se sy beweeg. Skielik het God se hand in Ish se sy weggeraak en toe bring God iets baie wit te voorskyn - 'n half ronde been - 'n ribbebeen. Die engele het na hul asems snak en met ingetrekte asems in stilte toegekyk. En God het die ribbebeen geneem en dit teen Sy hart gedruk. Toe het God weer gespreek en gesê: “Hierdie een sal baie spesiaal wees. Sy sal die som totaal van sagtheid en teerheid wees. Sy sal in haar doel slaag want Ek sal haar 'n onweerstaanbare heerlikheid gee - sy sal vir Ish 'n Ishah wees”. En God het die ribbebeen begin vorm. Stadig het God se hand oor die been beweeg en rondings het hul verskyning gemaak - kurwes het vorm aangeneem. En God se hand bewegings het al stadiger geword totdat die fynste details uiteindelik sigbaar was. En toe was Hy klaar. Die engele was sprakeloos. Skielik het sange van lofprysing die univers gevul. Die hallelujas het weergalm regoor die univers. En God het diep na Ishah gekyk en gesê: “Ishah jy is pragtig. Jy slaag in die doel waarvoor Ek jou gemaak het”. 

En God het weer neergebuk en die asem van die lewe in Ishah se neus ingeblaas en sy het haar oë geopen en regop gaan sit. Uiteindelik het sy opgestaan God met groot oë aangekyk en skielik het sy verskriklik begin babbel. God het sy ore toegedruk maar sy het nie opgehou nie. Engele het in verwondering gestaan en luister na hierdie snaakse lawaai. Eindelik het God Sy vinger voor Sy mond gehou en vir haar gewys om stil te bly. Sjoe, het die engele gesug, dit was erg, Ish gaan ‘n baie harde tyd met die een hê  -  daar wag ‘n moeilike tyd op hom. En God het haar deur die tuin van Eden geneem en aan haar al die prag van Sy skepping gewys. Ishah was in ekstase om al die natuurskoon en diere te sien. En God het haar gewys dat elke sy het ook ‘n hy, en Ishah het gevra: Here het ek ook ‘n hy. Lank het God na haar gestaar. Uiteindelik het sy die stilte verbreek: “Toe, toe, moenie net daar staan nie, het ek ook ’n hy?” Laggend en verbasend oor haar optrede het God haar uiteindelik geantwoord Ja, Ishah, maar jy sal moet gaan soek, hy lê seker onder ‘n boom en slaap. Ishah het gehardloop en geroep. Oor die berge en deur die vallye. Skielik het Ish wakker geskrik, het ek reg gehoor? Weer het Ishah se geroep deur die klowe gekom. Ish het opgespring en in die stem se rigting begin hardloop. Die geroep het al hoe nader gekom en skielik het hulle mekaar gesien. Stadig het hulle nader na mekaar beweeg totdat hulle voor mekaar gestaan het. Ish het haar van kop tot tone bewonder en toe die stilte verbreek “Ishah, jy is pragtig!”. Laggend en tergend het Ishah terug geantwoord “Ich, jy lyk self nie te sleg nie”. En die volgende oomblik was hulle in mekaar se arms? 

Ish se verlore rib is weer terug aan sy sy, daar waar sy uitgehaal is, waar sy hoort. Uit die hemel het God en die engele in stilte en met trane in hulle oë die ontmoeting bewonder. God was gelukkig, Sy meesterplan is volmaak voltooi. En God het trots na die mens gekyk en gesê ”Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sale en vlees wees. Wat Ek saamgevoeg het, sal geen mens skei nie”. AMEN.

No comments:

Post a Comment